|
‘n Kerk in die ware sin
van die woord – dit is wat die Afrikaanse Protestantse Kerk wil wees. Daaronder
verstaan ons ‘n gemeenskap van mense wat dieselfde geloof het, in liefde
wil saamstaan en mekaar ondersteun om daardie geloof al sterker te laat groei.
Dit is die geloof in die enig-ware God, die Drie-enige wat Hom in sy Woord
openbaar het en in Christus Jesus voortgaan om sy goeie skepping, wat deur die
historiese val in Adam in sonde en ellende gedompel is, handelend en kragdadig
onder leiding van die Heilige Gees te herskep totdat dit in die wederkoms van
Christus voltooi sal wees. As sodanig wil die AP Kerk in sy eie tyd en
kultuursituasie, en na sy eie roeping, ‘n openbaring van die tydomspannende
Liggaam van Christus wees aan die hand van die gereformeerde belydenis
en kerkregering.
Om sy roeping te vervul,
vra doelgerigte gehoorsaamheid van die kerk. Om dit te doen, wil die AP Kerk
met Christus op pad wees die toekoms in. Dit beteken nie dat die Kerk van
Christus se aard en roeping met die wisseling van die tydsomstandighede
verander nie, maar dat dié Kerk in die besonder daarop toegespits wil wees om
sy eie tyd se probleme daadwerklik en doelgerig, in die lig van die Woord, aan
die man te bring, Skriftuurlik te beantwoord en te help om die toekoms in
geloof in te gaan.
Die “geloofsisteem” aan die hand
waarvan die lewe vandag verstaan en ingerig word, is die humanisme. Die
AP Kerk het sedert sy ontstaan hierteen standpunt ingeneem terwyl vele
hoofstroom kerke al meer toegeeflik teenoor die humanisme geraak het. Sodoende
werk kerke mee aan die proses van die sekularisering van die samelewing,
terwyl in ons dag die waarheid gerelativeer word as sou dit bloot die
tydgebonde gesigspunte van bepaalde groepe en individue verteenwoordig, met die
hoop en verwagting dat die vermenging van standpunte en
kultuureiendomlikes tot ‘n nuwe oorkoepelende eenheid sal groei. Hierop wil die
AP Kerk ‘n antwoord bied, deur vanuit die waarheid van die Woord, kerk te wees
wat dinamies sy roeping vervul.
Hierdie Kerk het sy bakermat te
midde van die Afrikaner as kultuurgroep. Hoewel hy sy getuienistaak as
lewens- en wêreldomvattend sien, vind hy sy organisatoriese bedding hier omdat
hy glo dat ‘n kerk sy taak op sy effektiefste volvoer deur inheems te wees.
|